Blup, feite en mites

Met dank en erkenning: Dr Buks Olivier
Dohne Merino

BLUP is “presisie teling” vir die stoetboer.

Alle beskikbare data omtrent die dier en sy verwantes word in een ontleding gekombineer om die dier se teelwaardes ten op sigte van daardie spesifieke kenmerk te beraam ten einde seleksie besluite te neem.

Wat presies is BLUP?

Die identiteit wat “predict” word is die teelwaarde van ‘n individu t.o.v. ‘n bepaalde kenmerk. Dit is ‘n voorspelde waarde omdat ons in teling nie met sekerhede werk nie maar met waarskynlikhede.
Linieêr omdat fenotipiese waarde (dit wat jy kan meet) = teelwaarde + omgewingsfaktore.
Beste en onsydig in die statiese sin, dit wil sê daardie beraming wat teoreties die hoogste korrelasie tussen beraamde teelwaarde en werklike teelwaarde gee.
Blup kom daarop neer dat ‘n stel liniêere vergelykings sodanig opgelos moet word dat die beste beramings van teelwaarde (die onbekende) verkry word uit dit wat bekend is, d.w.s. die fenotipiese waardes van die dier en sy verwantes en die kudde (kontemporêre groep) waartoe hy behoort het. Die wiskundig/statiese teorie wat tot BLUP gelei het is inkrementeel ontwikkel oor baie dekades, beginnende in die 1940’s en steeds word die beraming van teelwaarde verder verfyn. Die toepassing daarvan moes egter lank wag, naamlik vir die ontwikkeling van kragtige rekenaars en doeltrefende rekenaar-algoritmes om buitengewoon groot matrikse te manipuleer. In die VSA het dit toepasing begin vind in die laat sewentiger en vroeë tagtigerjare. Australië was ‘n vroeë aanvaarder en Suid-Afrika het kort daarna gevolg in die jaar 1985, toe Gert Erasmus, Buks Olivier en Kobus Delport vir PhD studies by Vrystaat Universiteit die metodologie begin gebruik het. Teen die laat tagtigerjare het lande soos die Verenigde Koninkryk die voordele van BLUP teenoor hul tradisionele “Contemporary Comparisons” benadering ingesien. Vandag word BLUP wêreldwyd erken as die beste metode van teelwaarde-bepaling.

BLUP staan vir “Best Linear Unbiased Prediction.”

BLUP kan as volg voorgestel word:

Verwagte teelwaardes van diere (onbekendes) = (Bekendes) – 1.Produksiesyfers, -2. Verwantskappe, -3. Kontemporêre groepe(kudde maats).

Produksiesyfers word voorsien deur die Nasionale Prestasietoetsskemas. Die belangrikste leemtes van die prestasietoets-skemas was egter dat inligting van verwantes nie in berekening gebring kon word nie en dat diere uit verskillende kontemporêre groepe nie vergelykbaar was nie. Beide hierdie tekortkominge word deur BLUP oorkom omdat teelwaardes en korreksiefaktore gelyktydig beraam word. Die “gom” wat die data aanmekaar bind is die verwantskapmatriks. Die gebruik van die verwantskapmatriks maak kennis omtrent afstamming onontbeerlik. Voor die koms van BLUP was daar ‘n mate van verwydering tussen die aanhangers van stamboek registrasie en die voorstanders van prestasietoetsing. Maar, die hou van stambome is ‘n voorvereiste vir die toepassing van BLUP. Net so ook die beskikbaarheid van betroubare prestasietoetsdata. Met hierdie nuwe tegniek is die gaping tussen die twee benaderings oorbrug en die nutswaarde van beide stelsels oneindig verhoog deur die samevoeging daarvan.

Rekenarisering

1. INTERGIS (INTEgreerde Registrasie- en Genetiese InligtingstelseliS) is gesamentlik deur die SA Stamboekvereniging en die Lewendehawe Besigheidsafdeling van die Landbounavorsingsraad ontwikkel en word tans deur die LNR-LBA bestuur, wat op sy beurt SA Stamboek gekontrakteur het om die daaglikse operasionele funksies van die INTERGIS uit te voer en om die funksionaliteit van die stelsel verder te ontwikkel.

2. Die ander groot rolspeler is Breedplan , met hul hoofkantoor in Australië en sterk kliëntebasis in Suid-Afrika en lande soos o.a. die VSA, Verenigde Koninkryk, Nieu Zeeland, Uruguay en Argentinië. Breedplan se kliënte in Suid-Afrika was tot onlangs hoofsaaklik vleisbeesrasse, maar sluit nou ook Holsteins in. Die sagteware is gesamentlik ontwikkel deur die University of New England in Nieu Suid Wallis en die NSW Department of Primary Industries. Breedplan se webwerf bevat ‘n nuttige handleiding oor die betekenis en gebruik van BLUP verwagte teelwaardes.

Met BLUP Kan ons:

1. Teelwaardes meer akkuraat evalueer omdat elke dier se teelwaarde bepaal word op grond van alle inligting wat bekend is omtrent die dier en al sy verwantes.

2. Diere uit verskillende kontemporêre groepe- kuddes op dieselfde of verskillende plase, uit dieselfde of verskillende jare, op verskillende kontinente, ens. kan met mekaar vergelyk word.

3. Genetiese en omgewings tendense binne ‘n kudde of geheel die ras, kan gemonitor word sonder om duur kontrolekuddes aan te hou. Teelvordering kan dus gemeet word.

CRUX DOHNES se teeldoelwit is om alles in sy vermoë te doen, met alle moontlike inligting tot sy beskikking om gebalanseerde, funksionele, doeltreffende diere te teel.

BLUP en seleksiedoelwitte

Teelvordering word primêr deur twee faktore bepaal:

1. Waarvoor selekteer jy?
2. Hoe doeltreffend selekteer jy?

BLUP stel die teler in staat om akkuraat te selekteer vir kwantitatiewe kenmerke. Die volgende stap is om hierdie groter akkuraatheid te kombineer met seleksiedoelwitte. Die LNR-LBA en Breedplan benader die probleem wesentlik op dieselfde wyse, maar eersgenoemde gebruik die bekende term seleksie-indekse en laasgenoemde die handelsmerk-term Breed-Object.

Die jongste ontwikkeling is om reproduksiedata te probeer insluit by die produksiedata vir BLUP-ontledings en om merker gene – QTL (quantitative trait loci) in die geval van die LNR_LBA en GeneSTAR van Breedplan – te kombineer met BLUP teelwaardes.

Slotopmerking

BLUP is ‘n besonder kragtige metode om teelwaardes ten opsigte van kwantitatiewe kenmerke te bereken – niks meer as dit nie. Dit sê nie hoe mooi die dier lyk of hoe goed hy of sy is nie. Daardie soort van inligting moet op ander maniere verkry word om saam met die BLUP-teelwaardes te kombineer as basis vir seleksie besluite.

BLUP is ‘n besonder kragtige metode om teelwaardes ten opsigte van kwantitatiewe kenmerke te bereken – niks meer as dit nie. Dit sê nie hoe mooi die dier lyk of hoe goed hy of sy is nie. Daardie soort van inligting moet op ander maniere verkry word om saam met die BLUP-teelwaardes te kombineer as basis vir seleksie besluite.

Feite en mites rondom BLUP tegnologie

As u na ‘n spesefieke dorp wil gaan kan u ‘n GPS gebruik om daar uit te kom. Die GPS sal u neem na die plek waarheen u wil gaan. Die seleksiedoelwit is die PLEK en BLUP tegnologie is die GPS. U moet eers weet wat u wil bereik (u seleksiedoelwit) voordat u BLUP tegnologie kan gebruik. Dikwels hoor mens iemand praat van ‘n BLUP ram. Het u al gehoor van ‘n GPS dorp? Ook hoor mens van “BLUP” is gevaarlik”. Weereens BLUP is die gereedskap om by die doelwit te kom, dit is eerder die doelwit wat gevaarlik moet wees.

BLUP is ‘n uitstekende “tool” binne enige stoetery vir die verbetering van produksie, reproduksie- ,sowel as subjektiewe eienskappe – gebruik dit sodanig. Moet asseblief nie die skaap miskyk nie, maar moet ook nie die syfers ignoreer nie.
Kontak ons vandag