Nuwe Boere

Riglyne vir nuwe boere om suksesvol te boer
Crux Dohne Merino

‘n Uitgewerkte plan

Met dank en erkenning: Smiley de Beer (NWKV).

Die boer wat onthou om die eenvoudige goed reg te doen en wat rêrig by die bestuur van sy skape betrokke is, maak meer geld uit sy boerdery. Die boer bestuur sy kudde volgens ‘n uitgewerkte plan wat voorsiening maak vir die belangrikste datums in die produksie-siklus. Die boer weet presies wat in sy kudde gebeur om met ‘n geruste hart en vroegtydig die korrekte voeding te gee en om ander bestuursbesluite te neem.
Voorbeeld: Paarperiode 15 April tot 20 Mei
BELANGRIKE DATUMS

15 Oktober: 180 dae voor paartyd

Dit is in hierdie stadium dat eierselle (follikels) wat hopelik met paring bevrug gaan word, in die eierstokke van die ooi begin ontwikkel. Dit neem ongeveer ses maande voordat ooie gereed is om te ovuleer. As ‘n ooi dus op ‘n lae voedingspeil is wanneer die eierselle begin ontwikkel (ses maande voor paring) sal dit dus die ovulasietempo en gevolglik die lampersentasie beinvloed. Navorsing in Australië het bewys dat ooie wat 8 kg in massa verloor in hierdie kritieke tyd, 10% minder tweeling-ovulasies gehad het. Ses maande voor paring (normaalweg die eerste 6 tot 8 weke van laktasie) is die stadium wanneer die ooie een of selfs meer lammers soog. Indien die ooi nie op ‘n hoë voedingspeil is nie, word haar eie liggaamsreserwes gebruik. Dit het ‘n verlies in liggaamsmassa tot gevolg. Dit lei tot ‘n vertraging in die ovulasie wat miskien die rede is hoekom sommige ooie eers heelwat later in die paarperiode beset word. Goeie voeding van die ooi gedurende lamtyd is dus nie net tot voordeel van die pasgebore lam vir sy ontwikkeling nie, maar sal ook die aantal lammers wat in die volgende seisoen gebore word verhoog.

Die digtheid van die wolfollikels bepaal die wolproduksie van die lam regdeur sy lewe.

15 Februarie: 2 Maande voor paartyd

‘n Dohne boer moet nou reeds sy ramme aangekoop het en moes reeds toegesien het dat koggelramme gemaak is. Dit is noodsaaklik omdat daar genoeg tyd vir die ramme moet wees om aan te pas. Dit is ook ‘n goeie praktyk om ramme 8 tot 10 weke voor paartyd te skeer. Spermvorming neem ongeveer 2 tot 3 maande. Saad wat nou gemaak word, gaan met paartyd gebruik word. Gebalanseerde voeding met die klem op proteiene, die doseer en ent van ramme en die knip van hul kloue is nou belangrik. Maak seker dat ooie vir ten minste 34 dae, maar verkieslik 3 maande, geen kontak (selfs ruik en sien) met manlike diere het nie. Dit sluit ramlammers in. Ooie wat te lank aan ramme blootgestel word kom later nie meer op hitte nie.

1 Maart: 6 Weke voor paartyd

Prikkelvoeding kan later gespaar word deur ooie nou in twee kondisiegroepe (goed en skraal) in te deel en die voeding so aan te pas dat albei groepe met paring in ‘n goeie kondisie is. Indien ooie 3 weke voor paring in ‘n goeie kondisie is, is dit te betwyfel of prikkelvoeding enigsins regverdigbaar is.

24 Maart: 3 Weke voor paring

Sit 3% koggelramme 12 tot 14 dae voor paartyd tussen die ooie. Jong en aktiewe koggelramme is noodsaaklik omdat die fisiese stimulering van die ooie positiewe resultate op lewer. Indien die kondisie van die ooie af is, kan prikkelvoeding oorweeg word. Prikkelvoeding het weinig effek waar dit langer as vier weke voor paartyd toegepas word. Dit is nou ‘n goeie tyd om gebruiksramme vir libido, dekbehendigheid en vrugbaarheid te toets. Ramme moet volgens hulle vermoëns aan die verskillende ooitroppe toegedeel word. Om ‘n hoë besetting te verkry, moet teeldiere vir een tot twee weke voor paartyd rustig verkeer. Dip en ander aktiwiteite soos dosering moet liefs vir ‘n periode korter as ses weke voor paartyd vermy word.

15 April: Ramme tussen ooie gesit

Drie tot vier persent ramme moet volgens hul vermoëns tussen die ooie gesit word. Interessante navorsing toon dat produsente wat 2% en minder ramme gebruik het, 9.7% droë ooie gehad het, teenoor die 3.7% droë ooie van produsente wat 3% en meer ramme tussen hul ooie gebruik het. Maak seker dat die ramme gelukkig is. ‘n Klippie tussen ‘n kloutjie beinvloed die dekvermoë van ‘n ram. Paar die jong ooie met ramme wat voorheen reeds gewerk het (nie ou ramme nie) en gee onervare ramme vir groter ooie. Dit is beter om, wanneer die ramme vir die eerste keer tussen die ooie gesit word, dit in die laatmiddag te doen. Ramme is uiters aktief gedurende die eerste 24 uur van die paarperiode en fisiese inspanning, gepaardgaande met hoë omgewingstemperatuur kan steriliteit tot gevolg hê.

20 Mei: Haal ramme uit tussen ooie

Die ramme was nou vir 34 dae tussen die ooie. Daar was geleentheid vir elke ooi twee keer op hitte te kom en beset te raak. Vermy spanningsfaktore vir nog dertig dae na bevrugting. Rustige optrede sal voorkom dat die fetus moontlik absorbeer.

Oktober: 6 Weke na lamtyd

Maak gebruik van die geleentheid om die droë ooie en die ooie wat gelam het, maar waaraan daar nie lammers soog nie, te identifiseer en uit te skot. Indien die soog-en-droog praktyk gevolg word, moet jaarliks 30% van die getal ooie wat gepaar is as jongooie in die kudde opgeneem word. Dit is ‘n goeie manier om die getalle van die ooikudde in stand te hou. Identifiseer ook die lammers volgens die jaar van geboorte. Ooie van ses jaar en ouer moenie meer op die plaas wees nie. Dis die ooie wat baie probleme gee met lammers wat vrek en blou-uier kry.

Ons is weer in Oktober, m.a.w. die hele jaar begin weer van voor af.

Sien so om na ooie tydens dragtigheid

 

  • Ent ooie teen bloednier.
  • Ent ooie teen tetanus, lamsiekte en sponsiekte as probleme ondervind word (daar is kombinasie-entstof beskikbaar).
  • Probeer om blou-uier te voorkom deur kampe en krale skoon te hou en blou-uierentstof te gebruik.
  • Voorkom toksoplasmore deur besoedeling van skaapvoere deur katte te vermy.
  • Vermy weidings met plante wat misvorming en ander gebreke by lammers kan veroorsaak (weidings wat swaar met nitrate bemes is).
  • Vermy entings en dosrings tydens vroeë dragtigheid.
  • Voorsien voldoende voeding net na paring en voorkom drastiese veranderings in voedingspeil om resorpsie van die vrug te voorkom.
  • Vul vitamiene A, D en E aan.
  • Weeg ‘n aantal (ongeveer 10 % van die kudde) dragtige ooie minstens twee-weekliks om te bepaal of byvoeding nodig is. Toenames van 160-260 g/dag kan as riglyn vir die toename van ooie met enkelinge dien en 250-350 g/dag vir ooie met meerlinge.
  • As ooie nie geweeg kan word nie, ken twee-weekliks ‘n kondisiepunt aan ‘n verteenwoordigende groep ooie om te bepaal of hulle kondisie na wense is.
  • Indien byvoeding verskaf word, is dit beter om dit byvoorbeeld 2-3 keer per week te gee om so weidings-inname te stimuleer.
  • As volledige voer in laatdragtigheid voorsien word, moet kundige advies ingewin word.
  • Verseker optimale voedingstoestande vir lewenskragtige lammers, voldoende melkvloei en die voorkoming van domsiekte.

1 Augustus: Ongeveer ses weke voor lamtyd

Die ontwikkeling van die wolfollikels vind ses weke voor tot vier weke na geboorte plaas en die voedingspeil van die ooi gedurende hierdie periode bepaal die aantal (woldigtheid) wol-follikels wat sal ontwikkel. Ongeveer 72% van ‘n lam se groei vind van nou af plaas. Die dosering wat nou gedoen moet word, kan as die belangrikste wat die ooie moet kry beskou word. Indien ooie gedurende laat dragtigheid byvoeding moet ontvang moet die ooie volgens hul ouderdom, aantal fetusse en kondisie in troppe verdeel word. Byvoeding kan sodoende koste-doeltreffend gedoen word.

10 September: Lamtyd breek aan

Om lamvrekte te beperk moet ooie vir minstens twee uur na lamming rustig gelaat word. Omdat die meeste ooie vroeg soggens lam, moet voergee die tyd van die dag beperk word. Vermy ook swak verpreiding van waterpunte en swak weiding gedurende die periode.

2 Julie: 42 Dae nadat ramme verwyder is

Maak gebruik van die geleentheid om die droë ooie en die ooie wat gelam het, maar waaraan daar nie lammers soog nie, te identifiseer en uit te skot. Indien die soog-en-droog praktyk gevolg word, moet jaarliks 30% van die getal ooie wat gepaar is as jongooie in die kudde opgeneem word. Dit is ‘n goeie manier om die getalle van die ooikudde in stand te hou. Identifiseer ook die lammers volgens die jaar van geboorte. Ooie van ses jaar en ouer moenie meer op die plaas wees nie. Dis die ooie wat baie probleme gee met lammers wat vrek en blou-uier kry.

Ons is weer in Oktober, m.a.w. die hele jaar begin weer van voor af.

Kontak ons vandag